Sussa:
Ek onthou daar was 'n speletjie: "Koning, koning maggekrys"...ek het eers jaaare later uitgevind die regte naam is: "Koning, koning, mag ek reis?"
Fransi:
Ek kon nooit verstaan, toe ek klein was, en ons in die kerk gesing het, hoekom slegs "Marie wat op die Here wag" nuwe krag kry nie. :-)
werelde weg:
Ek voel ook soos 'n verkmuis; nie so lelik nie maar so deurmekaar...
Piet Magriet:
My oudste wou altyd "appetits" hê. (Aartappels.)
Hy het 'n bekvol gekry oor sy "foken" maar toe kom ons agter hy soek sy Volkswagen!
Zorro was Jorro en hy wou altyd 'n "branderman" geword het.
My meisiekind het altyd "kippe in haar koene" gehad.
Haar pa was haar grootste "piepie" (liefie) en sy sou ook nog met hom trou as sy groot is.
Ons het mos nou hierdie vierjarige dogtertjie in die huis, haar naam is Tatenda. Ek self glip en gly oor die naam, maar ek kon nie help om te lag nie, toe ons "aangenaaide lappie" amper twee en 'n half jaar oud, gister vir haar sê: Kom Malema!
Ek kon nooit die "Tessakalonikasense" onder die knie kry nie.
Ek hoor vanoggend op TV dat Vuyo sê sy pa het altyd Christiana as Chrisjan uitgespreek, maar dit het mos niks met klêza te doen nie nê?
Ek was ook besig om 'n skakel te soek toe ek by die kosbare dieregeluide beland het, en toe, toe hoep die poender en toe hak die kaan, want PM steek toe net daar vas!
... dit maak my sommer de joost in omdat Miss Piggy en Naas nêrens meer te bespeur is nie. Ek kry ook sommer 'n bloedkont!
Johanna:
Raatjie jy het mos self kaboutertjies wat Engels sprekend is en jy sal seker weet as ek sê dat daar baie misverstande kan plaasvind as die Engelse kabouters met die afrikaanse kabouters gesels.
Vanmiddag was my een kleinkind baie verontwaardig omdat sy nefie so baie vloek. Na 'n lang gesprek met altwee oor die (fok) woord kom ek toe agter wat die probleem is.
Die Engelse seuntjie vra baie mooi vir die Afrikaanse nefie, "Fork! man ek het gevra vir 'n fork"
Ya'acov:
Woordverdraaiings is seker nie 'n vreemde verskynsel as dit by kinders kom nie. Hierdie is 'n klompie uit my en my susters/broer se kinders se versameling!
Sekretaresse - seketaseresse
Toiletpapier - topilee
Helikopter - kieliehopter
Lorraine:
rosyntjie - pinisyntjie
Mary and Joseph - Mary and Jovez
silwer - sirwel
sypaadjie - sygpaadjie
hospitaal - hopsitaal
op die daad staan - tussen die draad staan
tarrentaal - trantraal
padkos - kospad
strykyster - ysstryker
Lorraine:
Ek en my man het jare terug (nog voor ons getroud was) by my sus-hulle gekuier in die Kaap. My man besluit toe hy koop vir hom 'n "paddle-ski" vir die water en ons sit af strand toe vir die dag. My sus en haar twee dogtertjies kom toe saam met ons.
By Bloubergstrand (julle almal weet seker hoe koud is die water daar) toets my man toe die paddle-ski in die water. Tog te lekker!!!! Met die terugkomslag strand toe, laat los hy die paddle-ski net daar waar die branders doodspoel op die sand. Maar, soos die branders spoel, lig die paddle-ski elke keer net so bietjies-bietjies van die grond af. Omdat die paddle-ski so swaar is, kan die uitspoel-branders dit nie wegspoel nie.
My sus se oudste dogtertjie (Juliet - omtrent 3-4jr) gil toe kliphard (en ek bedoel kliphard) voor al wat mens is op daai strand "ANDRÉ - KOM GOU, JOU SKIP, KOM GOU, JOU SKIP GAAN WEGSPOEL!!"
Kyk, almal op daai strand was histeries van die lag. Wys jou nou net hoe groot kan 'n paddle-ski vir so 'n kleine ou mensie wees. Tot vandag toe praat ons nog van André se paddle-ski as sy skip!!
Gawelina:
Net vanoggend gedink aan 'n ou seuntjie wat jare terug in my klas was. bietjie verstandelik gestrem, maar vreeslik dierbaar. elke oggend as dit sy beurt was om 'n liedjie te kies, wou hy Jesus het my met 'n rots geslaan, sing. Eintlik is die naam Jesus, rots vir my geslaan.
Ek sal altyd aan hom dink as ek daardie lied sing.
Meraai vannie baai:
Met die verkiesing wat ons diekant van die aardbol gister gehad het, onthou ek weer ( net so kort voor die verkiesing jare gelede in SA) het die jong kleurlingvrou wat skoonma gehelp het in die huis een Maandagoggend meer gedaan as gewoonlik voorgekom.
Ek het haar gevra en as jy nou so oor die muur lyk vanoggend Babsie? Sy antwoord, 'miss Raaitjie ek moes die hele nag met my arms in die lug staan en skrou: BAKPOEIER!! BAKPOEIER!!'
Toe moes ek mooi bedui dat die glip-van-die-oor-slagspreuk eintlik BLACK POWER was, het sy hand oor die mond geantwoord 'maar ek is mos eigentlik kriem!'
Meraai vannie baai:
HIER IS 'N PAAR VERDRAAIDE WOORDE VAN ONS KINDERS UIT HULLE KLEINTYD:
Biltong was bottelom
Ons mobiele karavaan was zin-zin
Sy boetie was my toetie
Ek soek koeldrank het so geklink: E woe tantan! (net 'n ma sou dit verstaan)
Susterskind het Fillipense vier vers vier so gesing: Willemien se ma se pa sê verbly jou in die Heer.
*ONS KON NIE OP 'N AFRIKAANSE WEERGAWE VIR MONDEGREEN AFKOM NIE EN TOE SKEP PM EN EK HIERDIE PLAASVERVANGER TAMELETJIE ENE:
lêhomoppieoor-nom de plume- ala bek-en-oor-flippen-glip
Johanna:
Hierdie woord systap my brein. Ek hou van die woord bekglip wat PM aangedra het want hierdie bekglip veroorsaak soms 'n klap op die bek.
Ek het menigt maal 'n dwarsklap op die bek gekry omdat ek nie een akteur se naam reg kan uitspreek nie todat my ouers agtergekom het dat dit nie aspris is nie maar dat dit een of ander sindroom is wat veroorsaak dat ek haar naam as daai "fokkerburger" uitspreek.
Hier systap my brein my sommer baie! want ek onthou nie haar naam nie todat iemand haar naam noem dan val die "fokkerburger" uit my mond.
