Gekroonde lyne: Adéle van der Berg

‘n Huis vir ons Heer! Woordgedagtes 40
Die stilte in die
mooi ou sandsteengebou-
‘n Huis vir ons Heer!
gee aan my en jou
‘n uur van aanbidding;
stilraak tussen
gekleurde sonstrale
waar stofdeeltjies speel
en ‘n vreugdedans
met ons deel

Vrugte van die Gees
Galasië, in die huidige Sentraal-Turkye,
was honger vir die Evangelie se wye
genade aan almal wat in Christus glo
en hulle harte gerig het na God daarbo.

Paulus het aan hulle ‘n brief geskryf
en vertel hoe hulle lewe moet wys
dat hulle God se kosbaar kinders wil wees,
in vrede gevul met Sy Heilige Gees.

Verkeerde gewoontes het hy opgenoem
en die ou, wettiese lewenswyse verdoem.
Met ‘n glimlag het hy aan hulle vertel
van alles wat jou weerhou van die hel.

Liefde, vreugde, vrede en geduld,
ook teenoor dié wie jou iets skuld,
moet deel wees van jou lewe in Hom
tot in jou gryse ouderdom.

Wees vriendelik met ‘n sagte hart
teenoor elkeen wat jy teëkom langs die pad.
Laat almal wat saam met jou wandel
weet jy is getrou in al jou handel.

Buig nederig onder die wil van God,
wees elke dag tevrede met jou lewenslot.
Laat selfbeheersing sy arms om jou vou,
dit is die laaste vrug van Sy Gees in jou.

Op ons knieë voor die Heer
Sondagoggend
onder donker donderwolke,
dreigend in die afwagstilte,
laat ons biddend opkyk na die Heer-

droogteseisoene
deur drie ewigheidsjare heen,
uitmergelend vir mens en dier-
ons op ons knieë voor die Heer.

Oorvoldruppels
soek hul pad na die aarde
se skeure en krake en poeiersand,
gelei deur die Hand van die Heer-

verwoestend
stort water uur na uur
op die dorstige aarde neer
en word riviere gevul deur die Genade van ons Heer!

'n druppel reën se verlang
ek het 'n druppel reën gevang-
dit ingepak saam met my groot verlang,
ons mandjie is gevleg uit goue sydrade
en die bodem ingelê met silwer maanstrale;
sterligklokkies al om die boonste rand
klingel romantiese wysies aan ons hartekant.

Februarie 2011
dit is Februarie 2011
en teen die skuinste
kontoer rye vaal opdrifsels,
hang soos verflenterde
vadoeke aan verspoelde drade-
stomme getuienis
van vuilbruin water
wat skuimend oor plat rotse
voortgestu en die walle uitgeklim het...

takke swerm vas teen
'n boomstomp wat rus soek
teen die brug se voetpilare,
verhoog die waterdruk
wat erosie langsaan uitkalwe,

tree vir tree kruip strome water nader
onkeerbaar, onstuitbaar;
versluk aan plant en dier
met geen verskoning,geen konsiderasie,
om dit later weer uit te spoeg,
uitgesuig en plat en leeg.

die spoelklippies in ons lewe
ek staan in die helder water
waar twee strome saamvloei
onder die laaghangtakke
van 'n onnutsige wilgerboom,
sterk speel die waters
oor die spoelklippe
om die saamvloeidraai.

die lewe se versnellings
skommel die klippies
heen en weer
en vryf hulle ronde magies
met maanligpoeier glad,
om elk van jou boodskappies
tot in my hart te weerkaats.

Sy vergeet haar lewenskrake

Haar skraal lyfie skarrel
bedrywig oral rond
en die blou ogies blink
in haar verrimpelde gesiggie,
deur yl, spierwit haartjies omraam.

Sy vergeet haar lewenskrake
en pak alles in die kamer reg,
maar ‘n uur later begin sy weer voor
want tussen werk en gesels,
het sy haar onthou verloor.

Langs haar lewenspaadjie
het haar geheue weggedwaal,
die dowwe voetpad
in ‘n tornado fyngemaal.

Sy weet nie ...
Sy skep nog ’n happie jellie, die laaste in die bakkie en draai die hand met die lepel stadig-versigtig na haar mond. Net vir ’n oomblik kom lê die onverstaan weer langs haar oë. Bo-op die lepel sit vergeet. Ek vertel haar nie dat sy reeds twee klein bakkiesvol rooi jellie met goudgeel vla geëet het nie. Ek help haar om haar mond af te vee; vryf ook die jammerlappie om haar vingers. ’n Traan rol uit haar ligblou oë, lagplooitjies vul met onthou soos honderde kere elke dag.
“Hallo, my kind. Het jy kom kuier?”
“Ja, Mamma, ek verlang na jou.”

'n Gerf vol gedagtes
vanaand
is ek alleen
en vertel my gedagtes
dat ek na elk besondere een...

terwyl
ek vir jou wag
in die skemeruur
van hierdie dag

koester
ek nog die onthou
-gister se ontmoeting-
al die maande van toe af tot nou,

verlang
ek na ons saamwees,
geskryf op my hart
om elke aand weer deur te lees

...moet luister want

woordegesprek
se tyd is min en skraal
maar jou lyftaal vertel
'n besondere liefdesverhaal

gevoelsmens
jou bruinblink oë se lag
vertel dat jy omgee en weet
van kosbare ure wat op ons wag!

vanaand
gee ek my oor aan jou
gerf ek my gedagtes saam
om in jou menshart toe te vou.

Dior Sunglasses is so

Dior Sunglasses is so beatiful that i am going to buy 3 pairs for this summer , but i find a online website who are selling Cheap Dior Sunglasses ,that will save a lot of money to buy them. and the online store is selling the Gucci Sunglasses too , many i will buy one for my wife.