Lepinotus Patruelis: Eendag lank lank gelede was daar mense op aarde. Hulle het name gehad. Dié geluide wat hulle maak om mekaar se aandag te rek, of om na ‘n ander te verwys as daar oor hom geskinder word. So het die gemeenskap geweet van wie gepraat word.
Eendag, lank gelede wat daar owerhede op aarde. Hulle het gedink dit is verwarrend dat mense op hulle name bekendstaan. Daarom het hulle die familiehoofde gevra om ‘n beskrywende agtervoegsel by die betrokke familie se name te kies. Deur hierdie beskrywende agtervoegsel, is dië in die gemeenskap wat dieselfde naam gedeel het, dus van mekaar onderskei. Mense het nou geweet of dit Jakobus die bakker, die smous, die tollenaar of die leegleër was. So het mense vanne gekry. Enkele geslagte later, het die nageslag in ander professies as hul voorvaders gefunksioneer. Meteens was Bakker nie meer die bakker nie, maar dalk die polisieman. En Venter was nie meer die smous nie, maar dalk die nagwadrywer. So het vanne hulle beskrywende doel verloor. Vanne het egter in ‘n statusding ontaard. Nou is jy op jou van aangespreek, want dit was mos mooi formeel. Perfek in pas met die ontwikkelende snob-strukture… So het die staat ook burgers gedokumenteer met die van eerste en die naam tweede. Die ware identiteit, as sekondêr.
Eendag, nie so lank gelede nie, was die snobstelsel nou net mooi gevestig. ‘n Van en ‘n naam, was so, so uuuummmm onderdorps. Die wat waardige burgers was, moes darem ‘n titel kry. So het ‘n manlike persoon Meneer geword. ‘n Ongetroude vrou Mejuffrou. ‘n Getroude vrou Mevrou. ‘n Geneesheer, Dokter. ‘n Akademinkus, Professor. In die weermag is ellelenge lyste van range en titels bedink om dit duidelik te maak wie is waardig en wie is skuim. Dit het tot gevolg gehad dat Emsie Schoeman later sou skryf dat die beskaafde manier van doen is, om iemand op sy titel en van aan te spreek. Dit wys jy is opgevoeter “opgevoed”. As jy dit nie sou doen nie, was jou opvoeding minderwaardig.
So het ons identiteite heeltemal omgekeerd geraak. Dit wat ons in wese is, naamlik ons naam, is eers deur ‘n van en daarna deur ‘n titel verdring. Ons het dus in formele sin, identiteitloos geword. So identiteitloos dat banke en lisensieowerhede die naam sommer net afkort met ‘n letter. Maar die titel en die van, dit word vol uitgeskryf.
Eendag, heel onlangs, het dié wat besef het dat hulle waardige skepsels is, hulle name teruggeëis. Hulself voorgestel op hul naam. Tot ontsteltenis van die welopgevoedes wat n naam as tè familiêr beskou. Dit bring mense mos te naby aan mekaar om ons skanse en maskers, waarmee ons mekaar wil bedrieg, suksesvol te beskerm. Maar die rebelle het vasgebyt en voer steeds die stryd om die herstel van die naam as identiteit.. Dis met dank dat Lepinotus getuig dat name weer begin na vore kom. Dat mense weer leer om verby kunsmatige skanse en titels te kyk en bloot net weer te wees dit, waarvoor hul geskep is. ‘n Medemens vir ‘n ander.
Maar die owerhede en banke, steek egter steeds vas by die snobstelsel van titels en vanne. Heeltemal uit pas met die werklikheid.
Is daar ‘n prognose vir die soort instansies, of moet ons dié verskynsel bloot probeer hanteer deur meer te belê in Rennies en Anusol?
Laat ons hoop die owerhede, ander instansies en die snobs kom betyds tot hulle sinne.
HUMORISTIESE KOMMENTARE OP HIERDIE BYDRAE:
Piet Magriet: En dan is daar diésulkes wat skuil agter 'n pseudoniem, of 'n nom de plume. Dit is daardie ouens wat vreeslik belangrik is! Hulle is sooo belangrik, dat hulle meer as een identiteit het. Pieternel, Piet Magriet, en die heel belangrikste, PM.
'n Goeie vriend van my het gesê die draer moet die titel dra en nie die titel die draer daarvan nie. Wat is erger as 'n titel wat jou kapittel omdat jy op die titel se rug ry en jy dit dan op jou pippa kry!
